Dit verslind…

Dit verslind…

Daar is geen ding soos monsters.
Ons beloof met ‘n glimlag –
jok deur ons oë se vensters,
want jou monsters liewe kind is sag.

Nee, daar is ‘n monster,
en die ondier wag jou in.
Verskeer jou wese vlenter –
draai jou waardes na sy sin.

Die fent verminder jou tyd.
Hy steel jou geluk,
vang jou wense in ‘n web wyd.
Vir Adam het hy eerste gepik…

Sy kop staan as bo baas.
Sy hande verskeur jou menswees.
jy dopper nader aan sy aas.
sodra jy sellaris vat is jy kees.

Versigtig liewe kind
ek vertel jou eerder stories
van trolle onder bruë gevind
voor jy weet van jou eie verlies.

Dit verslind…

Vanaand 9 Feb 2025

Ek is vanaand ‘n oranje whiskey
met sagte klavier musiek
’n swart kombers
wat teen my lyf kontrasteer.

Die reën wat hammer teen ‘n venster
Blitse wat teen my kamermure speel
‘n leer notaboek met gedigte.
‘n hart omverm deur angs.

Ek is ‘n siel wat sluimer
in die hitte van drome
onder ‘n aircon stroom.
‘n uitgedroogte protea

En ek wens my oë word moeg
sodat ek in die skadus kan rus
die helder dae kan aanpak.
Ek kontrasteer die donker kombers
maar voel gerus in sy hitte.

Ek is oranje whiskey
met geheime fluister stemme
sag teen swart kombers
rus ek my hart vir môre.

Dit verslind…

Jou drome

Is ek nog in jou drome
spook ek nog met woorde
onthou jy hoe ons gedans het
op berge van jou wense?

Elke aand steek ek ‘n vlam op
vir jou in my dolhoog van onthou
Ek dans nog saam met jou
in die branders van my liefde
Hinker ek na jou soene
die heelal se antwoorde in jou omhels.

Ek stap die gange van onthou
die wind fluister met jou fluit
jou bruin oë my kompas
My lamp van wense hou my pad.
Ek soek na jou liggaam
weggevat deur tyd.

Waar is jy nou my ritme tot die dans?
My smaak tot ‘n soen
My woorde tot ‘n lied
Soek jy nog na my?

Dit verslind…

31

’n Nommer, ‘n dag, ‘n jaar…
Hoe mis ek jou lyf vandag
Jou stem hou my demone op wag
Maar lief hoe sal my soeke vaar?

Jy nog in die tralies van Pretoria
en ek in 40 grade Pietermaritzburg
Jou blomme en biltong hier
maar jy is nie.

Ek mis jou
Ek het nie ‘n blompot nie.
Ek het vandag jou stem
maar ek het nie ‘n lyf
om daai stem in te sit nie.

Dit verslind…

Soms

Soms brand dit in my hart,
die gevoel van gemis word.
Dit voel vrot maar hard –
wanneer die eensaamheid my dek
met ‘n bitter kleed van trane.

Hoe dan voel ek so diep lief,
vir jou maar tog mid gekyk?
My Camo jas te effektief?
Wanneer sal dit genoeg blyk
vir jou om my woorde te sien?

My lief, my hart, ek mis jou
en ek voel ook vermis-
van jou aangesig.
So ek breek my hart oop
op papier.

Dit verslind…

Weer kinders

Kom ons wees weer kinders
en baljaar in ‘n groot tuin.
In die somer, roomys in hand-
soek na skietende sterre.

Kom ons swem en stoei-
probeer mekaar speel-speel verdrink,
my lief, kom ons wees saam kind.
Ons sien weer die wêreld in kleur.

Ons maak ons eie bende, my naam Swart Roos
en jy lag-lag met ‘n stoute glimlag-
doop jouself iets belaglik soos Pienk Doos.
Jy lag wanneer ek daaroor kla.

Want so wil ek ons onthou wanneer ons oud is.
God verbied ek oor jou graf moet staan –
twee seuns wat saam baljaar
David en Jonatan nog voor hormone verlief.
Kom ons wees asb weer kinders.